Posted by: deonlabu | September 11, 2007

‘n Stukkie Reënboog

img1.jpg 

Die dag begin met
‘n rooi son wat die
Vensters van die nag op kom.

Dan gaan lê jy op die naat van jou rug op
Die natuur se groen metras en droom…
Soos jy droom voel jy die warm geel van die son.

Dis daar waar die strale
Jou prikkel en jy begin warm kry.
Dis wanneer jy aan die klank van water en dink
Aan die rustigheid van blou.

Wanneer die son die dag verloor
En die nag oorwin.
Gooi die son sy laaste blik verf oor die lug
En die lug kleur dit die hemel
violet en die nag neem sy plek in.

In die nag vermaak oranje
Vlamme van vuur jou
As hulle speel tussen die houtskool.

As terug dink aan jou dag
Is daar net een sin wat
Jou dag kan beskryf:
img2.jpg

~ D. Labuschagne
 

Posted by: deonlabu | September 11, 2007

Die Volgende Rondte

365 dae is verby.
Jy het ‘n rondte om
die baan voltooi.

Jou baan was dalk
hier en daar vol dorings,
daar was dalk min stilhouplek,
Maar alles is nou in die verlede.

Vandag spring jy weg met ‘n
Nuwe rondte, met nuwe opwinding.
Ek wens jou alle sterkte toe!

My grootste wens is dat die
Drie-enige God jou baan gelyk maak
En dit besaai met rose.

Geniet die dag ten volle,
Want jy kom net een keer per jaar
By die begin van die volgende rondte.

D. Labuschagné

Posted by: deonlabu | September 11, 2007

Hy Is…

Hy is my boodskapper in die oggend
wat my die goeie nuus bring van ‘n nuwe dag

Hy is my navigator as ek skool toe gaan
wat my beskerm op die pad

Hy is my eksaminator
wat my help in die eksamenlokaal

Hy is my vriend pouse
as ek iemand nodig het om te praat

Hy is my adviseur
as ek vas gevang word tussen twee keuses

Hy is my onderwyser wat my
deursettingsvermoë gee in die wiskunde klas

Hy is my vertrooster
as ek slegte nuus ontvang oor ‘n toets

Hy is my Verlosser
as ek in my gedagtes sondig teen iemand

Hy is my nommer een ondersteuner
op die sportveld

Hy is my oubout
as ek by die huis kom

Hy is my Pa
as ek om hulp vra

Hy is my kok
as ek honger is en Hy voed my deur sy Woord en brood

Maar as ek in my binnekamer is,
is hy my God.
Die Een wat ek lief het.

D.Labuschagné

Posted by: deonlabu | September 11, 2007

Wat Is Vriendskap?

Vriendskap is ‘n goudmyn
Delf vir dit.

Vriendskap is ‘n harlekyn
Geniet dit.

Vriendskap is ‘n oop veld
Met geen geheim.

Vriendskap is ‘n speelgrond
Waar jy kan seerkry.

Vriendskap is soos tyd
Oneindig…

Vriendskap is grasie
Vir irritasie.

Vriendskap is ‘n hart
Met vuurwarm liefde

Vriendskap is voete
Wat tree vir tree groei

Vriendskap is ‘n skouer
Vir die las.

Vriendskap is ‘n gehoorstuk
Vir lang trane.

Vriendskap is hande
Wat jou dra

Vriendskap is dieper
As ‘n glimlag

As jy dit nie ken nie
Is dit net ‘n woord.

Maar…
Wat is dit vir jou?     

Deon Labuschagné

Posted by: deonlabu | September 11, 2007

Leer My Hoe Om Te Bid

Here, leer my hoe om te bid?
Ek wil so graag naby U wees.
Ek wil U ken deur gees.
Ek vra kom woon in my hart
Leer my hoe om te bid?

Ek smag na U!
Kom vervul my hart.
Op U sal ek wag.
Meer by U wil ek wees,
tyd saam U is kosbaar.

U liefde is Groot en Volmaak.
Vou my toe in liefde soos ‘n moeder
haar baba toevou in ‘n kombers,
en paai my met woorde
soet soos heuning.

Hiers ek, Here.
Gebruik my om te verkondig.
‘n Instrument is ek in U hande.
Speel U melodie van liefde deur my.

By U wil ek wees!

Vat en vorm my.
‘n Sondige mens met baie foute,
maar lief vir sy God.
Leer my die liefde vir sondaars.
Leer my Jesus se lewe aan.

Leer my hoe om te bid?
Meer met U wil ek praat.
Ek is leeg sonder U.
Kom leef binne my.
Daar is oopstaande deur vir U na my hart.
Om my te leer hoe om te bid.     

 D.Labuschagné

Posted by: deonlabu | September 11, 2007

Hawe Van My Moeder

Ek het ‘n moeder
wat by my staan in diep klowe
en saam my dans op hoë berge.
Haar voete ken die pad na  pyne in die hart
en haar hande weet net hoe om te troos.

Ek is ‘n skip wat geanker is
in die hawe van my moeder,
want dis daar waar waters van
liefde en versorging is.

Maar daar gaan ‘n tyd kom wat die
hawe nie meer diep genoeg gaan wees vir
my om in te seil nie
en ek in die dieper waters moet invaar.

Maar sy gee my weereens versekering en
‘n reddingsbootjie van moed en hoop om saam
my die wêreld se
oseaan in te stuur.

Met my reddingsbootjie op my skip vaar ek
Die wêreld se oseaan in met trots,
want ek is ‘n toonbeeld van my hawe.
As ek weer terugkom in die hawe, met ‘n groter skip,
verwelkom die hawe my met ope arms.

Maar  daar kom ‘n tyd wat die
Hawe  opdroog.
En ek nie meer terug kan seil nie,
maar die hawe van my moeder sal altyd
in my hart en gedagtes bly.

D.Labuschagné

Posted by: deonlabu | September 11, 2007

Iemand Se Strepie

Jongmense se strepie getrek in hul jonkheid.

Daar val ‘n klip in my oor
dwarsdeur my hart
en lê swaar op my gemoed.

Skielik onthou ek haar mooi glimlag
die stories wat sy vertel

Ek dink aan al haar drome
haar ervarings met die mense om haar.

Sy was nie sommer bang gewees nie
haar hart nooit ‘n geslote moordkuil nie.

‘n Ietwat onbekende bekende meisie
met baie stories na ‘n naweek

Op my eie manier het ek omgegee vir haar
al het ek haar nooit goed geken nie.

Die klaskamer sal ook nie dieselfde wees
sonder haar gespreke met die registeronderwyser nie.

Vrydag was haar strepie getrek en ‘n sout druppel water rol oor my hart wang.

Haar doel is bereik.
Genees van ‘n gebroke wêreld
Gespaar van die  hartseer en pyn van die lewe

Ek wil sien waar sy nou is…
Die mooiste plek wat ‘n mens in die lewe kan kry,
‘n plek met baie vreugde en baie om oor te lag!

En die beste van alles, sy’s by dié Een wat ons almal se strepie trek.    

 D.Labuschagné

Opgedra aan Charisna Pretorius wat op 2 September 05
oorlede is in ‘n motor ongeluk.
 

Posted by: deonlabu | September 11, 2007

Jesus Se Woorde

Wit huisie
omring deur berge
en woude.

Julle die wit huisie,
Ek, die berge.
Die woude – My geskenk aan jou
Om te leef

Hout vir vuur in die koue.
Koel skadu’s as die son jou bak.
En ‘n bosbokkie vir die honger.

Vir dors kom na Berg,
want daar is water van
liefde wat jou dors les
en jou hart reinig.

Daar’s genoeg water.
Versorg jou graperke,
want gebroke harte
kom na jou om meer
van die Berg te leer.

Laat hulle rus in skadu’s,
troos hulle met die vuur
en les hulle dors met die water.

Sodat die aarde wat Ek gemaak het
Vol hoë berge en groen woude kan wees.

D.Labuschagné

Posted by: deonlabu | September 11, 2007

Observeer

STOP!
Kom tot stilstand,
kalmeer…ontspan
en kom na God se genadestasie,
sodat Hy jou kan vul
met Sy genade, liefde en wysheid.
Die beste van alles:
die lesing op die meter bly loop
die prys is klaar betaal met rooi bloed

Voor jy ry… wag
observeer!
Maak seker Hy’s daar in elke refleksie
van die situasie waarin jy jou bevind.
En ry rustig voort.

God se troosveërs
sal jou trane uit jou oë kan wegvee,
sodat dit nie jou sig vorentoe belemmer nie.

Laat Hy jou vriend wees
wat langs jou sit,
om jou te waarsku van gevaar
en wees veilig.

My blinde kol is God.
Ek kan Hom nie sien nie,
maar ek weet Hy’s daar.
Vergeet ek om Hom te soek,
maak ek ‘n fout
en draai ek teen die verkeer

Kyk links, kyk regs
vir ander wat jou pad kruis,
dis dalk net jy wat hulle help om
beter en veiliger te stuur
op die lewens pad.
                                                                                                                                D.Labuschagné

Posted by: deonlabu | September 11, 2007

Berekening vir ‘n konstante

Opgedra aan ‘n wiskunde onderwyser. 

________________________________________________________

‘n Saadjie minus sy oorsprong
Bly net ‘n saadjie…

Die som van vrugbare grond en water
Is gelyk aan die ontkieming van ‘n plant

Wanneer water, vrugbare grond
En sonlig vermenigvuldig word
Kry ons iets groter as groei

Die kwosiënt van
           Water
                      Vrugbare grond
                                   En sonlig
                                            Is ‘n prag blom,
                                                      Een wat geur en prag kwadreer

Wat is die grootste geheim agter
Die prag blom?
Die gemeenskaplike Faktore:
God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.

Met Sy sonlig die warmte van elke dag
Met Sy liefde die krag vir groei.

Is jy die noemer
Wat op die Teller moet staat maak
In die lewensbreuk
Om ‘n konstante antwoord te kry
Wat nie kan afwyk van dit wat Is nie

Want die konstante is jy
Die persoon wat jy kan wees in Hom as jou God.

D.Labuschagné

 

Older Posts »

Kategorië